Indiese Lotus (Nelumbo nucifera)

foto

Die Indiese Lotusblom

Die Indiese Lotusblom (Nelumbo nucifera) is ʼn pragtige waterplant met ertjiegroen blare wat bo-op die wateroppervlakte dryf. Die pienk blomme word gewoonlik gedra aan dik stingels wat verskeie sentimeters bo die water uitsteek.

Die Indiese Lotusblom word as heilige plant beskou en word deur die Bhoediste gebruik gedurende godsdienstige seremonies. Die hele plant is geskik vir menslike gebruik, alhoewel hoofsaaklik die sade en die wortels (risome) gewoonlik in tradisionele kookkuns regoor Suid-Oos Asië gebruik word.

Die Indiese Lotusblom is ʼn moerasplant wat gekweek kan word op dieselfde manier as die welriekende waterlelie. Dit is glad nie moeilik om hierdie plant in ons omstandighede te kweek nie, mits mens weet wat jy doen!

Om die Indiese Lotusblom te kweek deur gebruik te maak van sy sade, moet die buitenste harde lagie van die saad eers ietwat afgevyl word (vryf, met sandpapier behandel) met sandpapier. Dit verseker maklike waterpenetrasie waarsonder die plant nie kan ontkiem nie. Indien die buitenste lagie van die saad ongeskonde bly, kan dit vir eeue lewensvatbaar bly. Wanneer dit egter in water geplaas word, mag dit ʼn hele paar jaar neem om te ontkiem.

foto

Om Lotusblomme te laat groei

Hoe weet mens wanneer jy ʼn genoegsame hoeveelheid van die buitenste lagie van die sade afgevyl het?

ʼn Mens weet deur te kyk na die groeiende grootte van die saad wanneer dit in water geplaas word. Indien die saad in grootte verdubbel binne 24 uur, is geen verdere vyling nodig nie. Indien nie, moet jy egter meer van die saad se buitekant afvyl. Plaas dan die saad terug in die water vir ʼn volgende 24 uur en kyk dan hoe groot die saad is. Herhaal hierdie proses totdat die saad in grootte verdubbel het.

Die saad het slegs water nodig…

Wanneer die vylproses suksesvol voltooi is, moet die saad geweek word in ʼn houer wat met water gevul is. Die ideale watertemperatuur aan die begin van die groeiproses is tussen 27°C en 28°C (selfs al kan die saad in grootte verdubbel in ʼn watertemperatuur van slegs 20°C).

By hierdie temperatuur sal die saad vinnig ontkiem en binne een week sal spruitjies sigbaar wees.

Sodra die eerste blaartjie verskyn, moet die saad geplant word in ʼn modderige substraat of in akwariumgruis op die bodem van ʼn houer (akwarium, visdammetjie of dam ). Die watervlak in die houer moet ten minste 30cm bo die substraatvlak gehou word. Indien die medium wat gebruik word, akwariumgruis is, kan die Indiese Lotusblom maklik groei in ʼn vistenk gevul met visse!

Die plant sal stelselmatig meer ruimte benodig, soos dit groter groei. Jy kan dit egter kweek in ʼn visdam, tuin, kweekhuis, of enige ander plek weg van ysige temperature. Die ideale temperatuur vir die kweek van die Indiese Lotusblom is tussen 20°C en 35°C.

Die Indiese Lotusblom kan gedurende die hele jaar in die tuin gekweek word in die grootste gedeelte van Suid-Afrika. Die minimum-temperatuur moet egter nooit onder 0 °C wees nie.

Die ideale manier om die Indiese Lotusblom te kweek is om betonhouers te gebruik wat sowat 60 tot 80 liter water kan hou. Gebruik dan die volgende metode: Plaas die uitgespruite saad/sade in ʼn modderige substraat of in akwariumgruis binne-in ʼn blompot en plaas die blompot dan binne-in ʼn betonhouer wat tot bo met water gevul is.

Die voordeel daaraan verbonde om ʼn betonhouer te gebruik is dat dit dan op enige plek geplaas kan word. Die Indiese Lotusblom kan maklik op enige plek gekweek word – selfs binneshuis!

Printed from neznama adresa